Verhoudingspatrone wat eiegeregtigheid (entitlement) bevorder

Menslike verhoudings beïnvloed ‘n persoon se houding van eiegeregtigheid. Ons is die produk van die verhoudings waarin ons belê, sowel as die keuses wat ons maak.

Kom ons kyk na die belangrike patrone wat eiegeregtigheid veroorsaak. Dit het meestal te doen met disfunksionele maniere om te prys, te beloon, reg te stel en die gevolge van slegte gedrag te vestig.


Prys- en beloningsprobleme

Soms beloon ons (deur aksies) en prys (deur woorde) ons gades, werknemers, kinders en vriende op maniere wat hulle eintlik skade aandoen, selfs al voel dit op daardie oomblik die regte ding om te doen. Wat soms voel of dit die regte ding is om te doen, is nie altyd die beste ding om te doen nie.

Onwyse beloning-/lofprysingsbenaderings skep slegte gevolge. Onthou dat ons nou van patrone praat, nie geïsoleerde gevalle nie. Om dit so nou en dan te doen, is oraait, maar wanneer dit tendense word, kan dit houdings van eiegeregtigheid bevorder.


Beloning wat geen moeite verg nie

Beloning en lofprysing is die effektiefste wanneer dit fokus op prestasie wat tyd en energie in beslag geneem het. Om byvoorbeeld ‘n klein dogtertjie aanhoudend te prys omdat sy mooi is, vestig die volgende oortuiging by haar: wat my geliefd laat voel, is nie iets waaraan ek veel kan doen nie. My binnekant is nie belangrik nie, slegs my buitekant.

Hoe sou die dogtertjie voel indien sy eerder die volgende hoor:

 Jy werk regtig hard en jy doen goed op skool.

Wat word nou geprys? Haar hardwerkendheid, waaraan sy baie kan doen. Alhoewel haar mooiheid oor tyd sal vervaag, haar karakter sal nie. Haar karakter sal groei en oor tyd selfs mooier word.


Beloon wat verwag word

Beloning behoort gereserveer te word vir daardie tye wanneer iemand beter as wat verwag word presteer, wanneer hy ekstra moeite doen, ekstra tyd spandeer, of verwagtinge oortref — nie wanneer hy slegs die minimum of wat verwag word doen nie. Daar word vir niemand ‘n partytjie gereël deur maar slegs betyds vir werk op te daag nie.


Beloon wat nie spesifiek is nie

 Jy’s amazing!
 Jy’s awesome!

Wel, dankie vir hierdie vae kompliment. Maar waarheen gaan ek daarmee? Ons kultuur is oorspoel van hierdie oordrywings, maar dit het min of meer dieselfde waarde as ‘n leë koppie koffie.

Ons breins het lêers waarin inligting gestoor word. Lofprysing behoort na die regte lêer te gaan: die lêer van harde werk, van goedhartigheid, van eerlikheid, of van kwesbaarheid. Die brein het egter nie ‘n lêer vir enige nie-spesifieke, oordrewe stellings nie en is daarom nie in staat om dit konstruktief te gebruik nie.

Dis maklik om sulke komplimente uit te deel en of jy dit aan jou vrou of ‘n telefoonpaal gee, dis om’t ewe. Wat egter inspanning verg, is om iemand dop te hou en na spesifieke lofwaardige gedrag of houdings te verwys wanneer jy iemand komplimenteer.

 Die kos wat jy gemaak het, is amazing.
 Die manier hoe jy jou personeel motiveer, is awesome.

Komplimente soos hierdie kan in die regte lêer van ons brein gestoor word.


Lofprysing aan wat ‘n vermoë verg en ‘n identiteit bou

Ons het bevestiging nodig wanneer ons hard probeer en goed presteer. Ons het ook nodig om te weet wanneer ons goed gedoen het in ons klas, werk of sport. Dit is waarom kompetisie gesond kan wees.

Die boodskap is:
 Jy is goed in wat jy doen.

Maar wanneer die boodskap die grens oorsteek na:
 Jy is beter as ander as gevolg van wat jy doen, of
 Jy verdien spesiale behandeling,

dan veroorsaak dit moeilikheid.

Jou kind mag beter wees in wat hy doen as enigiemand anders — in wat ook al — maar intrinsiek is hy niks beter nie. In God se oë is niemand beter as ander nie (Handelinge 10:34). Ons is almal na God se beeld geskape.


Lofprysing wat nie op realiteit gegrond is nie

Een van die ergste dinge wat iemand kan doen, is om hoop te gee, selfs as daar geen gronde daarvoor is nie. Het jy al gesien hoeveel treinwrakke is daar aan die begin van elke talent-gebaseerde TV-program? Wanneer iemand probeer om te sing, te dans, te vermaak, terwyl hy duidelik nie die vermoë of die talent het nie?

Hoekom het iemand hulle nog nie lief genoeg gehad om te sê:

 Dis nie jy nie. Laat ek jou help om te ontdek waarin jy regtig goed is.


‘n Gebrek aan warmte

Dis ironies, maar eiegeregtigheid kan voorkom wanneer ‘n persoon min lofprysing, sorg of warmte gekry het.

Al wat ons nodig het om te weet, is dat ons liefgehê en aanvaar word. Dis ‘n basiese menslike behoefte. Maar wanneer iemand net ‘n klomp koue, afsydige of selfsugtige verhoudings ken, dan skep hy dikwels vir homself ‘n verdedigende, grootdoenerige identiteit.

Om homself van die leegheid en hardheid van sy verhoudingswêreld te beskerm, skep hy vir homself ‘n selfidentiteit wat eiegeregtig, selfgesentreerd en grootdoenerig is.

Verdedigende grootdoenerigheid is bloot ‘n muur wat ons bou om ons negatiewe emosies in toom te hou. Wanneer die eiegeregtige persoon met ‘n proses van groei begin, dan word die muur afgebreek en gesonde emosies en optrede begin vorm.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom