Die universele siekte: Eiegeregtigheid (entitlement)

Eiegeregtigheid is die oortuiging dat jy vrygestel is van enige verantwoordelikheid en dat spesiale behandeling aan jou verskuldig is.

Eiegeregtigheid is die persoon wat in staat is om vir homself te sorg, maar tog verwag hy dat ander dit vir hom moet doen, want hy voel dit is aan hom verskuldig.

 Dit sluit die fisies gesonde volwasse kind in wat aanhou om by sy ouers te bly, weier om te werk, om enige bydrae tot die huis se netheid te lewer, of agter hom op te ruim.
 Eiegeregtigheid is die werknemer wat glo dat hy sy salaristjek verdien vir redes wat totaal nie verband hou met hoe goed hy presteer nie en dat sy werkgewer gelukkig is om hom te hê.
 Eiegeregtigheid is die eggenoot wat dink dat alles wat in sy huwelik verkeerd gaan die ander party se skuld is. Aangesien hy reeds alle bydraes tot die huwelik gemaak het, is hy daarop geregtig om net terug te sit en vir sy eggenoot te wag om alles wat verkeerd is reg te maak, sonder enige hulp van sy kant af.

Eiegeregtigheid het baie gesigte, maar eiegeregtige persone het ten minste die volgende eienskappe:

 ‘n Houding dat hulle spesiaal is
 ‘n Houding dat hulle dit verdien
 ‘n Weiering om verantwoordelikheid te vat
 ‘n Ontkenning van hulle impak op ander

Die eiegeregtige persoon glo dat hy nie volgens die reëls van verantwoordelikheid, aanspreeklikheid en toewyding hoef te speel nie. En die eindresultaat is voorspelbaar: die eiegeregtige persoon voel goed en leef sleg, terwyl diegene rondom hom sleg voel oor die situasie, maar meer suksesvolle verhoudings en beroepe het.

Dit is aanloklik om verskonings vir ons geliefdes (en onsself) wat ‘n eiegeregtige houding openbaar, te maak. Die enigste effektiewe reaksie is egter om verantwoordelikheid te neem – nie om verskonings te maak nie.

Baie mense wat deur baie lyding in die lewe is, wat armoede ondervind het, kindermolestering en chaos beleef het, neem steeds verantwoordelikheid vir hulle lewens en keuses en blameer niemand nie. En dan is daar persone wat alles gehad het – liefde, ondersteuning, geleenthede – wat nogtans glo dat daar aan hulle “geskuld” word.

Eiegeregtigheid het ‘n diepgaande negatiewe impak:

 Organisasies moet ongemotiveerde werknemers hanteer
 Ouers word gekonfronteer met selfgesentreerde kinders
 Jong volwassenes wat weier om groot te word en niks bereik nie
 Leiers wat aandring op spesiale behandeling as gevolg van hulle posisies en nie as gevolg van hulle karakters nie
 Huwelike wat uitmekaar skeur as gevolg van die narsisisme van ‘n eggenoot
 Gemeentes wat opgeskeep sit met prima donna-leiers
 Professionele sakelui wat van een werk na die ander rondval op soek na ‘n werk waar hulle hom as die wonderkind (soos hy homself sien) sal beskou – of hulle nou produktief is of nie
 Studente wat gratis onderrig eis en in strate rondhardloop en hulle die reg toe-eien om alles wat voorkom te vernietig en af te brand

Eiegeregtigheid het ‘n ernstige probleem in ons samelewing geword en dit word nie beter nie.


Die uitdaging om met ‘n eiegeregtige persoon saam te leef

Mense wat ‘n eiegeregtige persoon in hulle lewens het, ervaar deurlopend die volgende emosies:

 Vervreemding. Dit is nie maklik om saam met ‘n eiegeregtige persoon te lewe nie. Dis vir ons almal moeilik om saam met iemand te leef of te werk wat dink hy is op een of ander manier verhewe bo die res van die mensdom en dat hy dus nie volgens die reëls hoef te speel nie.

 Woede. Wat gebeur as iemand in jou lewe nie eienaarskap vir sy lewe vat nie en dit aan jou oorlaat om die verskil op te maak? Jy voel kwaad, wat verstaanbaar is. Jy voel iets is nie reg nie, omdat iets werklik nie reg is nie.

 Magteloosheid. Mense voel dikwels dat al hulle logiese argumente, baie gepraat, waarskuwings en liefdevolle ondersteuning op dowe ore val. Hulle probeer elke tegniek en strategie in die boek. Dit is hierdie gevoel van magteloosheid wat mense dryf om die keuse te maak om die verhouding te beëindig, of dit nou die beste keuse is of nie.

Daar is ‘n oplossing vir eiegeregtigheid, maar dis ‘n moeilike pad:

 Dit is die gewoonte om te doen wat die beste is, eerder as om die maklike uitweg te kies, om sodoende ‘n uitkoms te bereik wat die moeite werd is. Dit beteken om aan te hou, selfs al is dit moeilik, ongemaklik, neem dit langer en verg dit meer energie.


‘n Saak vir deernis

Ons kan almal meer deernis openbaar teenoor eiegeregtigde persone. Hier is drie redes:

 Dit is nie alles hulle skuld nie. Eiegeregtigheid ontstaan nie net as gevolg van ‘n persoon se keuses en houding nie, maar ook as gevolg van die verhoudingsomgewing waarin hy grootgeword het. Dit beteken nie dat sulke gedrag verskoon word nie. Elkeen bly verantwoordelik vir sy eiegeregtigheid. ‘n Rede is nie ‘n verskoning nie.

 Tot ‘n mate het ons almal ‘n houding van eiegeregtigheid. Ons het elkeen hierdie siekte – met wisselende grade. Voordat jy dus te gefrustreerd raak teenoor die eiegeregtige mense in jou lewe, haal eers die balk uit jou eie oog.

 Verandering en groei vind slegs plaas in die teenwoordigheid van deernis. Dit maak nie saak hoe selfsugtig en veeleisend die persoon is nie – deernis kan ‘n verskil maak. Geen blywende verandering gaan in elk geval sonder deernis plaasvind nie. Indien jy so ‘n persoon wil help, sal jy “vir” so ‘n persoon moet wees: vir sy welstand, vir sy sukses en vir sy groei en verandering.

Indien jy dus ‘n eiegeregtige persoon wil help, maak seker jou benadering is nie sonder deernis nie, anders sal so ‘n persoon dit dadelik aanvoel en daarteen reageer. Jy sal dus altyd met deernis moet begin. Anders sal ‘n eiegeregtige persoon nooit die konfrontasie uit jou mond aanvaar nie.

Voor jy dus ‘n eiegeregtige persoon van alles wat sleg is beskuldig, ondersoek eers jou hart eerlik. Maak seker jy dra deernis en aanvaarding oor:

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. – Romeine 15:7


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom