Gee dit net vir die Here? Die waarheid oor geestelike groei verduidelik

(‘n Vals oortuiging wat Christene van hulle koppe af dryf)

Geestelike groei is nie iets wat vanself gebeur nie — dit vra ’n aktiewe betrokkenheid van ons kant.

Mense wat jare lank aan alkohol, dwelms of pornografie verslaaf was en dit reggekry het om dit te oorwin, ‘n u-draai te maak en dan ‘n opbouende bydrae tot die samelewing te maak, is legio. Toe ek aan een so ‘n persoon vra hoe hy dit reggekry het, antwoord hy so droogweg:

“Dit was nie té moeilik nie. Ek het net 7 AA-byeenkomste per dag bygewoon.”

Wat hy eintlik bedoel het, was dat sy genesing en herstel nie uit die lug geval het nie. Dit het harde werk gekos en in die proses het hy ontdek dat God van ons verwag om Sy vennote van ons heiligmaking te wees. Dit is veral waar as ons enigsins emosioneel en geestelik wil groei. Volgens God beteken dit ‘n vennootskap tussen Hom en ons.

God het gekies om dit nie alleen te doen nie en het ‘n sisteem ontwerp waar Hy saam met ons werk om ons te genees en volwasse te maak (Romeine 8:29; 2 Korintiërs 3:18). Hy verwag van ons om aktiewe, verantwoordelike deelnemers van ons eie genesing te wees.

Luister na hoe Paulus dit stel:

“Therefore, my dear friends, as you have always obeyed – not only in my presence, but now much more in my absence – continue to work out your own salvation with fear and trembling, for it is God who works in you to will and to act according to His good purpose” (Filippense 2:12-13).

“For we are God’s workmanship, created in Jesus Christ to do good works” (Efesiërs 2:10).

Met ander woorde, ons is God se mede-werkers om ons verlossing uit te werk. Ons is rentmeesters van ons eie verlossing en heiligmaking.

Waarom geestelike groei nie passief gebeur nie

Baie Christene neem egter ‘n passiewe houding teenoor hulle geestelike en emosionele groei aan, veral as hulle met emosionele pyn, karakterswakhede, lewensituasies wat verandering vereis, of drome wat gerealiseer moet word, worstel. Sulke Christene het dikwels ‘n “let go and let God” siening van hulle genesings- en groeiproses.

Hierdie (vals) oortuiging – “ek moet dit net vir die Here gee” – kan Christene letterlik tot raserny dryf. En die kerk is tot ‘n groot mate skuldig hieraan.

Gee dit net vir die Here, kom net in God se teenwoordigheid en alles sal verander. So asof ons maar kan aangaan met ons geestelike laksheid en verkeerde lewenstyl. God verander alles. Al wat ons moet doen, is om net in Sy teenwoordigheid te kom en alles vir Hom te gee.

En om dan met ‘n skok agter te kom dat niks verander nie – en dat ons nog net so passief en verkeerd lewe soos voor ons alles vir die Here gegee het.

Sommige kerke neem dit selfs nog verder. Wanneer God nie jou alkohol- of dwelmverslawing, jou kort humeur, jou verslawing aan pornografie, jou onvermoë om te vergewe of wat ook al wegneem nadat jy alles vir Hom gegee het nie, is daar glo iets fout met jou geloof.

Watter geloofskrisis skep sommige kerke nie by hulle lidmate nie.


Parallelle waarhede

Hier is ‘n paradoks wat baie gelowiges sukkel om te verstaan: ons kan onsself nie red nie en ons moet aktiewe deelnemers van ons genesings- en groeiproses wees.

Aan die een kant sê die Bybel dat as ons onsself probeer red, sal ons dit verloor (Matteus 16:25). Ons is dood as gevolg van ons oortredings en sonde (Efesiërs 2:1). Dit is God wat ons verlossing inisieer en dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus kom (Filippense 1:6).

Sonder hierdie waarheid – dat ons onsself nie kan red nie – en sonder sy tweelingboetie – dat ons aktiewe medewerkers in ons verlossing moet wees – sal opregte gelowiges God vra om hulle depressie te genees, hulle angs weg te vat of hulle van eetversteurings te bevry.

Dan is hulle teleurgesteld, verward en gefrustreerd wanneer God nie die oorvloedige lewe gee wat hulle verwag het nie.

Die parallelle waarheid van ons magteloosheid is dat ons ywerig moet werk aan ons verlossing om dit wat God vir ons verwerf het, te ontvang. Die Bybel is duidelik oor die aktiewe rol wat ons moet speel:

“Be diligent in these matters; give yourself wholly to them, so that everyone may see your progress.” (1 Timoteus 4:15)

“Fight the good fight of the faith. Take hold of the eternal life to which you were called.” (1 Timoteus 6:12)

“I press on toward the goal to win the prize for which God has called me heavenward in Christ Jesus.” (Filippense 3:14)

As ek nie my deel doen nie, sal geen groei plaasvind nie.


Algemene wanopvattings oor geestelike groei

‘n Paar passiewe leerstellings

Daar is twee populêre leerstellings oor emosionele groei.

Die “Posisie” leerstelling
Hierdie siening sê dat jy net op jou posisie in Christus moet fokus. Hy het alles vir jou gedoen. As jy waarlik glo, sal jy uit jou emosionele warboel ontsnap.

Hierdie leerstelling maak egter ‘n wanvoorstelling van die proses van heiligmaking. God het vir ons ‘n ewige posisie verseker, maar die Skrif leer ook dat ons dit wat God vir ons verseker het, in besit moet neem.

God het byvoorbeeld vir Israel die beloofde land verseker, maar hulle moes dit nog steeds gaan inneem.

Op dieselfde manier moet ons aktief saam met God werk om die lewe te leef wat Hy vir ons bedoel het. Om Christene te leer dat hulle net moet fokus op hulle posisie, ontneem hulle van verantwoordelikheid vir die pyn en probleme wat hulle moet konfronteer.

Hierdie leerstelling klink baie geestelik, maar leer mense dikwels om hulle verantwoordelikheid te ontduik.

Die “Hou jou oë net op God gerig” leerstelling
Hierdie siening sê dat introspeksie selfgesentreerd en humanisties is en dat ons net op God moet fokus.

Maar die Bybel leer presies die teenoorgestelde. Jesus sê ons moet eers die balk uit ons eie oog haal (Matteus 7:5). Paulus roep ons ook op tot selfondersoek (1 Korintiërs 11:28-31).

Wanneer mense God werklik ontmoet, kyk hulle na binne en word bewus van hulle gebrokenheid (Jesaja 6:1-5). Hierdie soort introspeksie is nie selfaanbidding nie, maar ‘n pad na reiniging en transformasie.

Geestelike groei is dus ‘n diep persoonlike proses. Ons moet gedurig na binne kyk deur belydenis, bekering en vernuwing.


Daar is ten minste 12 dinge wat ons kan doen om te groei

  1. Ons kan verantwoordelikheid neem vir ons probleme deur belydenis (1 Johannes 1:9).
  2. Ons kan erken dat ons magteloos is om onsself te red.
  3. Ons kan God en ander om hulp vra.
  4. Ons kan aanhou soek na insig oor wat in ons binneste aangaan.
  5. Ons kan van die kwaad wat ons ontdek, wegdraai.
  6. Ons kan onvervulde behoeftes uit ons kinderjare identifiseer en genesing daarvoor soek.
  7. Ons kan verskoning vra en vergifnis soek waar nodig.
  8. Ons kan ander vergewe (Matteus 18:21-35).
  9. Ons kan ons gawes en talente ontwikkel (Matteus 25).
  10. Ons kan aanhou om God te soek (Matteus 7:7-11).
  11. Ons kan waarheid en wysheid nastreef (Hebreërs 5:14).
  12. Ons kan leer om al hoe meer praktiese liefde te leef.

God sal nooit dit wat ons self kan doen, vir ons doen nie. Hy het ons geskep as mede-werkers in Sy diens.

Hoe gouer ons besef dat ons nie ons verantwoordelikhede kan ontduik deur dit net vir God terug te gee nie, hoe gouer sal ons ophou om geestelik en emosioneel te sukkel.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom