“Teenspoed volg die sondaars op hulle pad; die regverdige word met voorspoed vergoed.”
– Spreuke 13:21
• Ek verstaan dit nie. Ek kan op Loftus Versfeld wees tussen duisende mense en op een of ander manier sal ek dit regkry om op die enigste alkoholis in die skare verlief te raak.
• As daar een beheervraat in die hele land is, sal ek hom kry en dink ek kan nie sonder hom leef nie.
• Ek gaan werk elke keer vir ’n skurk. Dit lyk my as ’n skurk my ’n pos aanbied, dink ek outomaties dis die beste maatskappy in die hele wêreld – tot ek ses maande daar gewerk het.
• Ek is kort-kort met ’n verloorder deurmekaar. Wat is dit met my dat ek sulke soort ouens aantrek?
• Hoekom is al die vroue tot wie ek aangetrokke voel op die ou end so hulpbehoewend?
• Ek bevind my oor en oor in dieselfde verhouding: al wat verander is die name.
Wanneer mense hierdie opmerkings maak, is hulle op die regte spoor. Hulle gaan beter verhoudings raakloop. Hoekom? Omdat hulle uiteindelik agtergekom het dat die mense wat hulle kry glad nie die probleem is nie. Nee, hulle besef hulle is die probleem — of ten minste ’n groot deel daarvan.
Hulle kom agter dat die werklike probleem is dat hulle eie “mense-kieser” gebreek is. Hulle hou aan om diegene te kies wat hulle óf gaan seermaak óf in die steek laat óf op een of ander manier nie vir hulle goed gaan wees nie. En hulle begin besef hierdie mense verskyn nie per ongeluk in hulle lewe nie: hulle self het iets daarmee te doen; hulle kry of trek hierdie mense na hulle toe aan.
As hulle dit eers raakgesien het, kan hulle die redes daarvoor soek en dit verander.
Soort soek soort
Dit is egter verskriklik moeilik om mense sover te kry om te besef dat hulle ’n aandeel het daarin om hierdie mense na hulle toe aan te trek en om tot hulle aangetrokke te voel. Hulle sukkel om in te sien dat dit wat hulle aanvanklik na daardie persoon aangetrek het iets met hulle eie wanfunksionering te make het en dat hulle opvallende waarskuwingstekens opsetlik miskyk.
Wanfunksionerende mense trek wanfunksionerende mense aan en gesonde mense trek gesonde mense aan. Dit is ontstellend hoe konsekwent hierdie “wet” is.
Daar bestaan byvoorbeeld nie so iets soos iemand wat in ’n langtermyn verhouding met ’n verslaafde betrokke is wat nie self op een of ander manier mede-afhanklik is nie. Twee sulke mense sal altyd bymekaar uitkom. Die vraag is hoekom?
Dit is die wet van aangetrokkenheid wat in die energiesfeer werksaam is. Beide persone se energie trek hulle letterlik na mekaar toe aan. Daar is geen wetenskaplike manier om dit te bevestig dat dit waar is nie. Ek glo wel ons het energievelde wat deel is van ons karakter. ’n Mens kan byvoorbeeld aanvoel wanneer iemand baie liefdevol is en ook wanneer iemand ’n “donker” energie in hulle het.
Daar is karakterdinamika wat aangetrokkenheid verklaar en wat uitwys hoe ons na sekere tipe mense en nie na ander nie aangetrek word.
Kom ons kyk byvoorbeeld na mede-afhanklikes. Hulle behoefte om iemand te help, “reg te maak” en beter te maak is deel van hulle samestelling. Hulle is redders. Dink nou ’n oomblik na: wie het redders nodig? Presies. Iemand wat redding nodig het.
En watter soort mense het redding nodig? Verantwoordelike mense? Nee. Daardie mense wat nie verantwoordelikheid en eienaarskap aanvaar vir hulle eie lewens nie en wat innerlik verknoei is.
Daarom sal mede-afhanklike mense altyd onverantwoordelike mense of verslaafdes in hulle lewe hê totdat hulle besef dit is hulle eie mede-afhanklikheid wat veroorsaak dat daardie verhoudings bestaan en wat dit vir hulle nodig maak om probleemgevalle in hulle lewe te hê.
Net so is daar aan die ander kant van die skaal mense wat nie verantwoordelikheid vir hulself aanvaar nie. En watter soort mense het hulle nodig? Redders. Iemand om na hulle om te sien. Kolskoot! Die legkaartstukkies pas presies in mekaar. Hulle kry mekaar!
Hulle hoor vuurwerke as hulle ontmoet; hulle hou sommer net van mekaar. Wat die aangetrokkenheid veroorsaak weet hulle nie, maar hulle weet dit voel goed in die begin. Dis wanneer die dinamika begin werk dat die probleme ontvou.
Nog ’n voorbeeld: as iemand regtig verslaaf is aan beheer en niemand anders se persoonlike grense respekteer nie, na watter soort persoon gaan hy op soek wees? Iemand wat daardie gedrag sal toelaat. Dis ’n volmaakte passing en daarom word hulle soos magnete na mekaar toe aangetrek:
• Die selfsugtige een en die onbaatsugtige een
• Die perfeksionis en die skuldige een wat mense ten alle koste moet tevrede stel
• Die afsydige een en die een wat ware intimiteit vrees
• Die een wat emosioneel afwesig is en die een wat haar lewe lank deur mense verlaat is
• Die een met die negatiewe selfbeeld en die kritiese een
• Die selfgesentreerde een en die gewer
• Die narsistiese een en die een wat komplimente uitdeel
• Die baie “goeie meisie” en die “slegte ou”
Dit gaan oor jou
Aanvaar verantwoordelikheid vir die feit dat jy in vriendskap, romanse, die sakewêreld of jou geestelike gemeenskap tot wanfunksionerende mense aangetrokke voel. Aanvaar daar is ’n rede waarom dit gebeur.
Dit gaan oor jou, nie oor hulle nie. Vind uit waarom hulle jou so aantrek.
Nog ’n voorbeeld: ’n vrou het aanhoudend gekla dat die ouens wat haar uitneem ontwykend is en nie met die verhouding kan volhou nie en nooit inisiatief neem nie. Sy voel altyd hulle beplan nie en doen nie die normale dinge wat in ’n verhouding nodig is nie.
Haar verskoning? “Wat gaan aan met vandag se mans? Daar is nie goeie mans nie.”
Sy wou nie haar terapeut glo dat sy elke keer met “klein seuntjies” uitgaan nie. Tot sy eendag met ’n “man” uitgegaan het. Om saam met ’n volwasse man te wees het haar bedreig, onbekwaam en klein laat voel. Sy moes ten alle koste in beheer wees en saam hierdie man was sy alles behalwe in beheer.
Sy het skielik besef dat sy elke keer klein seuntjies kies sodat sy nie bedreig voel nie. Sy het haarself uiteindelik uitgevang.
Speel jou eie spel
Hou op om hul spel te speel. Hou op om op die spel te speel wat vir hulle afwykende gedrag werk en jy sal ophou om hulle aan te trek. En die mense wat reeds die “ongesonde” spel met jou begin speel het, sal die boodskap kry en jou spel begin speel — die gesonde een.
Eerlikheid. Verantwoordelikheid. Liefde. Getrouheid. Toewyding.
Laat dit jou spel wees en die enigste mense wat aan jou deur sal klop, sal mense wees met dieselfde karaktereienskappe as jy. Die ander wil niks daarmee te doen hê nie.
Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom