Baie huwelikspaartjies wil ’n tien-verhouding hê, terwyl hulle maar slegs vywe is. Hulle sal nooit die verhouding kan hê wat hulle begeer nie alvorens hulle die verhoudingsvaardighede ontwikkel om dit te bou nie.
Baie persone binne ’n verhouding is onbewus van hulle eie houding en gedrag en hoe dit tot die probleme bydra. Hulle het gewoonlik ook ’n fantasie oor die oplossing vir die probleem.
“As ek net ’n egskeiding kan kry en van voor af saam met iemand anders kan begin, sal alles goed uitwerk. As ek net die regte persoon kan kry, sal alles wonderlik wees.”
Indien jy ook so ’n fantasie oor jou huidige verhouding het, het ek slegte nuus vir jou. Die enigste probleem met die nuwe verhouding sal wees dat jy deel daarvan gaan wees. Daar is GEEN kans dat dit fantasties gaan wees nie, al is die ander persoon ook perfek!
’n Goeie verhouding val nie uit die lug nie. As jy nie oor die vaardighede beskik om ’n goeie verhouding te hê nie, ongeag wie jy kry, sal die seepbel aanhou bars. Dis hoekom dit beter is om te bly waar jy is en te leer hoe om ’n verhouding te hê met die persoon met wie jy nou getroud is. Totdat jy dit gedoen het, sal jy onbevoeg wees om ’n positiewe verhouding met enigeen aan te knoop.
As jy dit oorweeg om te skei, moet dit wees om die redes wat God gee. En dit is altyd wanneer iemand ’n onskuldige party is en verraai word.
Ons kan slegs verhoudings hê wat met ons eie vermoëns ooreenstem. As ons dus al die wonderlike dinge wil hê wat verhoudings ons bied – soos liefde, sekuriteit en groei – moet ons mense wees wat in staat is om liefde te bou, sekuriteit te verskaf en groei te bevorder. Eers as ons sulke mense is, kan ons die verhoudings hê wat ons begeer. En totdat ons sulke mense is, sal wonderlike verhoudings ons bly ontwyk.
Dis die groot probleem met maatsoekery. Mense hou aan soek na “die een”. Al hul energie is gefokus op die persoon waarna hulle op soek is en nie op die persoon wat hulle besig is om te word nie. Tog bly vele vasklou aan die fantasie van kits Hollywood-liefde.
Verhoudings ly skipbreuk wanneer die vaardighede om dit te laat werk by een of albei die betrokke partye ontbreek. Daar bestaan nie so iets soos kits- en blywende Hollywood-liefde nie. Blywende liefde ontstaan as mense die vaardighede en vermoë het om liefde te skep en te onderhou.
Die goue reël
“Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.”
– Lukas 6:31
Dit klink eenvoudig, maar hierdie beginsel kan ’n omwenteling in huwelike, vriendskappe, werks- en gesinsverhoudings teweeg bring. Enige soort slegte verhouding sal drasties beïnvloed word as hierdie reël dag na dag toegepas word.
Daar is twee mense in enige verhouding en die enigste een waaroor jy beheer het, is jy. As jy dus goeie verhoudings wil hê, begin dit deur die ander persoon te behandel soos jy behandel wil word.
Daar is dinge wat jy sal moet aanbied as jy goeie verhoudings wil hê. Jy moet die eerste een wees om belangrike vaardighede soos liefde, geneentheid, vergifnis, getrouheid, eerlikheid, aanvaarding, egtheid en ander noodsaaklike eienskappe na die verhouding te bring.
As jy dit nie doen nie, sal jy ’n “vyf” bly wat ’n “tien”-verhouding wil hê. Of jy sal dalk ’n “tien” kry, maar die ander persoon tot op jou vlak aftrek. Daar sal nie liefde wees as jy nie self liefde bring nie.
Gee meer as wat jy ontvang
“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
– Romeine 12:21
Gee beter dinge as wat jy ontvang.
Die meeste verhoudings ontwikkel omdat mense goed is vir mekaar en mekaar wedersyds tevrede stel. Totdat … Een van hulle beleef ’n slegte dag en sê iets sarkasties. Die ander een voel seergemaak en sê iets minder liefdevol terug. Die eerste een trek terug in sy/haar dop, ens.
Met ander woorde, die verhouding is goed totdat een van die partye iets gee wat minder goed is. Dan gee die ander party iets nog minder goeds terug en van daar af is dit al die pad afdraande.
Die persoon wat weet hoe om beter dinge te gee as wat hy ontvang, kan die situasie maklik omkeer. Hy sluk sy trots, of as hy agterkom hy het hom onnodig vererg, gaan hy na die ander persoon en sê:
“Ek is jammer. Ek tree soos ’n bedorwe brokkie op. Vergewe my.”
Die verhouding lig dan weer sy kop op en is nie meer op die afdraande pad nie.
In ander verhoudings trek die een persoon egter die ander een af om net so erg soos sy/haar ergste self te wees. Die een persoon se wanfunksie bring die wanfunksie in die ander een na vore en dit vra net een mislukking om hulle op die verkeerde spoor te sit.
Om beter dinge te gee as wat jy kry beteken ook om, wanneer iemand faal, te gee wat jy self nodig het wanneer jy nie jou bes doen nie: jy het hulp nodig. Soms het jy begrip en geneentheid nodig, aanvaarding van wie jy is. Soms het jy dalk opregte en goedbedoelde eerlikheid nodig – ’n konfrontasie.
Maar wat jy ook al nodig het, jy het iets goeds nodig, nie iets slegs nie. Jy het iets verlossends nodig wanneer jy ’n laagtepunt bereik, nie iets kwetsend nie. Jy het hulp nodig.
Gee goedheid in ruil vir boosheid en jy sal vind dat julle nie so maklik koppe stamp nie. Of dat die onenigheid ten minste gouer opgeklaar word.
Wees verlossend en dien die ander persoon. Span al jou kragte in soos God gedoen het toe Hy na ons vlak gedaal en onskuldig namens ons gely het in ’n poging om ons tot Sy vlak te verhef. Die persoon wat jy liefhet, het dit van jou nodig en jy moet dit doen om die verhouding te laat verbeter.
Voordat jy praat …
Maak seker jou woorde is gevul met liefdesvaardighede voordat jy praat – pas die goue reël toe en gee beter dinge as wat jy kry. Onthou, wat jy ook al sê, dit bou of dit breek liefde af.
“Die tong het mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.”
– Spreuke 18:21
Dag na dag en jaar na jaar sal jy die vrugte pluk van wat jy in jou verhouding sê en doen. Ontwikkel die vaardighede om dinge te sê wat liefde skep en jy sal liefde vind.
Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom