Misplaasde vertroue open die deur vir ellende

Van die oomblik wat jy gebore word tot die dag van jou dood put ’n mens lewe uit die wêreld om jou. Uit God en uit mense. Die vraag is dus: wat neem jy in? As jy goeie mense vertrou en jou hart vir hulle oopstel, sal jy gedy. As jy die verkeerde soort mense vertrou, sal jy ly.

Vertroue is net ’n deur. Dis nie towerkrag nie. Daar is altyd ’n voorwerp aan die ander kant. Waarin en in wie jy jou vertroue plaas, is wat saak maak. Net soos vertroue die deur na goeie dinge kan wees, kan dit ook die deur na baie slegte dinge wees.

En daarom is hierdie een van die kragtigste geheime in die Bybel: wees versigtig wie jy vertrou. Misplaasde vertroue kan diepe ellende meebring.


Twee bronne van pyn

Daar is baie soorte pyn, maar ons wil hier op twee daarvan fokus.

Die eerste soort is die pyn wat onskuldige mense ervaar aan die hand van bose mense wat hulle mishandel, beseer, gebruik, verraai of iets afgrysliks aandoen; iets waaraan hulle as lydende party hoegenaamd geen aandeel het nie. God haat dit as onskuldiges ly (Jeremia 22:3).

Die tweede soort pyn is die soort wat deur slegte, bose of ten minste onverantwoordelike en selfgesentreerde mense veroorsaak word. Dit verskil egter van die eerste soort pyn in die sin dat die slagoffer nie ’n kind is of iemand wat op een of ander wyse oorweldig word nie. Dit is die soort pyn wat veroorsaak word wanneer ’n mens die verkeerde tipe mens vertrou.

Dit het in ’n stadium al met ons almal gebeur. Ons moes dit sien kom het en tog, om een of ander rede, het ons die verkeerde mense vertrou. Soms het ons oorgenoeg waarskuwings gehad en moes ons dit raakgesien het.

Die kern van die saak is dat die tweede soort pyn deur misplaasde vertroue veroorsaak word. Jy ken mense wat seergekry het omdat hulle die verkeerde tipe persoon vertrou het. Dalk is jy een van hulle. Die tekens was daar, maar niemand het daarop ag geslaan nie, want die begeerte na iets meer, beter of anders was sterker as die oop en blote werklikheid.

Ek het al gesien hoe mense die onmoontlike glo en met ’n verhouding of saketransaksie voortgaan, terwyl die tekens of feite so voor die hand liggend is dat dit as’t ware vir hulle skree om te stop!

Vra jouself dus die volgende vraag af: wat vertrou jy? Vertrou jy wat mense sê? Vertrou jy hulle sjarme? Vertrou jy hulle persoonlikheid? Vertrou jy op die mate waartoe jy aangetrokke voel tot hulle? Vertrou jy hul getuigskrifte? Of hulle mag of status?

Wat oortuig jou om jou vir iemand oop te stel en hulle toegang te gee tot jou:

• Hart
• Denke
• Siel
• Krag
• Hartstog
• Geld
• Tyd
• Gesin
• Vriende
• Talente
• Begeertes
• Liefde
• Inligting
• Besittings
• Drome
• Planne
• Hoop
• Geloof

Jou antwoord op hierdie vraag openbaar geweldig baie oor jou as mens.

Ons leef in ’n kultuur waar mense hulself gereeld en baie gou in liefde, seks en romanse aan ander gee. Hier is die geheim oor vertroue wat die Bybel en enige pastorale terapeut wat sy sout werd is jou sal vertel: vertrou ’n mens se karakter, soos dit deur sy gedrag bekend word (kyk Matteus 7:17,20).


Mooipraatjies

Praatjies vul geen gaatjies nie. Mense sal jou enigiets vertel, maar dis maklik om te praat. Om te doen, is ’n perd van ’n ander kleur. Moenie glo wat mense sê nie. Glo wat hulle doen.

Wat hulle in werklikheid doen is die dinge waarmee jy sal moet saamleef en waarop jy kan staat maak — die wese van vertroue. Ons kan alleenlik staat maak op wat mense doen, nie op wat hulle sê hulle gaan doen of wat ons wens hulle moet doen nie.

Die geheim is dus om mense se gedrag dop te hou. Kyk hoe hulle optree. Moenie na verskonings luister nie, maar neem hulle oor ’n tydperk waar. Tyd is ’n sleutelbestanddeel vir vertroue (Matteus 7:17,20).

Wanneer jy met mense uitgaan, vertrou iemand wat meer doen as goed lyk en sjarmant optree of heeltyd komplimente uitdeel. Vertrou die persoon wat jou oor ’n tydperk met liefde en respek behandel en daarmee wys dat hy of sy oor die vermoë beskik om jou en die verhouding as prioriteit bo sy of haar eie selfsugtige behoeftes te stel.

Vertrou iemand wat wys hy of sy heg waarde aan God en aan liefde, vryheid, verantwoordelikheid, geneentheid, toewyding en ander dinge wat hou.

Wanneer jy getroud is en jou maat maak ’n ernstige fout, soos egbreuk of verslawing, moet hom of haar nie vertrou as hy of sy sê hy of sy is jammer en belowe om in die toekoms beter te doen nie. Dit is ’n goeie begin, maar dit is net ’n begin. Vertrou hom of haar wanneer sy of haar “jammer” ’n paadjie word wat jy kan sien — soos wanneer hy of sy met behandeling volhou, of by ’n herstelgroep betrokke raak en bly, of ander vriende maak, of verhoudings bou waarvoor hy of sy aanspreeklik is, of hulp soek.

Vertrou die paadjie wat jy kan sien.

Wanneer jy sake doen, vertrou die persoon wat hom- of haarself reeds bewys het, wat tevrede gewese vennote, ’n suksesstorie, ’n skoon lei en gesonde finansies het. En sorg dat jy genoeg tyd het om dit alles eers te bevestig.

Wanneer jy vriendskappe aanknoop, vertrou persone wat jy al lank genoeg ken sodat jy weet hulle is eerlik, lojaal, geestelik, verantwoordelik, vriendelik, vergewensgesind en betroubaar.

In Psalm 101:3–7 vertel Dawid wie hy bereid was om te vertrou en wie nie. Hy sê hier vir ons om niks te doen te hê met mense wat slegte en verkeerde dinge doen nie. Ons moet mense vermy wat vals is, wat van ander kwaadpraat, wat arrogant en hoogmoedig op ander neersien en wat bedrieg en leuens vertel.

As jy Dawid se beginsels toegepas het vandat jy agtien geword het, is daar enige pyn of swaarkry wat jy vir jouself sou kon gespaar het?

Daar is naellopers en daar is maratonmense. Die naellopers is die mense wat regtig goed lyk in die begin, maar nie die hele wedloop kan hardloop nie. Die maratonmense is diegene wat nie net goed begin nie, maar ook goed eindig. En dit neem tyd om te bepaal wie is wie.

Die ou mense het nie verniet gesê jy moet eers ’n sak sout saam met iemand opeet voordat jy jou in ’n verhouding begewe nie.


Kry weer jou aanvoeling terug

Probeer agterkom waarom jy geneig is om mense te vertrou wat nie betroubaar is nie. Jy het dalk te veel onvervulde behoeftes en dit maak jou blind vir wie hulle regtig is. Jy sien dalk wat jy wil sien, maar nie wat werklik daar is nie.

Die Bybel se raad is egter dat jy weer jou aanvoeling moet terugkry:

“Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei.”
– Hebreërs 5:14

Gebruik jou vorige ondervinding, jou ervaring om jou te skool. Moenie weer dieselfde fout maak nie. Luister na jou aanvoeling. Wees versigtig wie jy vertrou — met jou hart, jou drome, jou siel.

Jesus het dit soos volg gestel:

“Moenie wat heilig is vir die honde gooi nie … en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie …”
– Matteus 7:6

Luister na daardie klein stemmetjie in jou en moenie voortgaan as daar waarskuwingstekens is nie. Vertrou God en sluit jou motor — maak nie saak hoe veilig die parkeerterrein lyk nie.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom