Wat gebeur as al ons skynheiliges bymekaar kom?

Ek wonder altyd of daar nog mense soos ek in die kerk is. Mense wat aan die buitekant OK lyk, maar aan die binnekant beur hulle onder die gewig van versmorende laste – pynlike huwelike, skandelike verslawings, verlammende angs of depressie, onverbiddelike skuld en negatiewe denke.

Hulle wil nie hê iemand moet weet nie, want hulle soek nie enige jammerte of oordeel nie en wil ook nie van hulle posisies in die kerk verwyder word nie. Hulle is teleurgesteld in hulself. Hulle het gedink hulle sou nou al meer geestelik en emosioneel volwasse wees. Maar dit lyk asof dit so goed met almal gaan, so hulle steek maar alles weg.

Dit het dalk tyd geword om eerlik te kyk na wat in ons gemeentes aangaan en om dit te doen, moet ons nie kyk na wat Sondae in ons kerke aangaan nie, maar na wat in die lewens van die lidmate aangaan.

Hoe gaan dit regtig met diegene wat kerk toe gaan? Beleef hulle transformasie, geniet hulle ‘n lewegewende verhouding met die Here en die mense in hulle lewens?

Na honderde gesprekke met gelowiges blyk dit dat kerkgangers se stories taamlik dieselfde klink.


1. Baie mense voel vasgeval

Terwyl mense betrokke is by hulle kerk – Bybelstudies en selgroepe bywoon en diens lewer – ondervind hulle nie baie innerlike verandering en groei nie. Aanvaarding, vergifnis, vreugde en vrede is bloot verstandelike konsepte en nie deel van hulle daaglikse lewens nie.

Hulle voel verwyderd van God en sien hulself as mislukkings en ‘n teleurstelling vir die Here. Die gevolg is dat huwelike van kerkgangers teen dieselfde tempo as nie-kerkgangers s’n ten gronde gaan. Kerkgangers is toenemend verslaaf aan kos, pornografie, televisie, geld, ens.

Ons moet eerlik met onsself wees: ‘n verstandelike begrip van geloofsake is nie gelyk aan geestelike volwassenheid nie. Die vermoë om oor leerstellings te praat, is nie gelyk aan ‘n intieme verhouding met die Here en ‘n getransformeerde lewe nie. Om iets van God te weet, om selfs baie van Hom te weet, waarborg nie geestelike groei nie.

Die vraag is nie hoeveel selgroepe ons in die gemeente het, of watter programme ons alles aanbied nie, maar wat gebeur in die lewens van ons mense. Dit is moeilik om mense verder te neem as waar ons self is. Indien ons nie groei in ons eie vermoë om lief te hê nie – wanneer ons eggenote, kinders, familie en vriende dit moeilik vind om liefde van ons te beleef – is dit onwaarskynlik dat ons enigiets outentieks bied wanneer ons geestelike volwassenheid in ander help ontwikkel.

Wat doen ek wanneer ek ‘n werkswinkel in konflikhantering aanbied, maar ek het al die reëls die vorige aand verbreek? Of wanneer ek ‘n “ekspert” op ‘n ouerseminaar se paneel is, maar ek voel lus om onder die tafel in te kruip, want net die vorige dag het ek geen benul gehad oor wat om met my eie kind aan te vang nie?

Ons kan dit maar net sowel sê:

 Vandag was ek ‘n slegte man/vrou.
 Gister wou ek my kinders verkoop.

Dit is nie aardskuddend nie. Dit is net die regte lewe en enigeen wat eerlik is, ondervind dit. Jou kerk hoef nie volmaak te wees nie. Dit moet net realisties en eerlik wees.


2. Baie van ons medisineer onsself in plaas van om ons pyn te hanteer

Medikasie hier kan enigiets wees: voorskrifmedikasie, dwelms, alkohol, pornografie, eetversteurings, misbruik, dobbel, godsdiens, ens. Dit maak nie saak watter “medisyne” jy gebruik, of waarvan jy probeer ontsnap nie – die speletjie bly dieselfde.

Dit gaan altyd daaroor om iets te kry om die pyn weg te vat – om die kwellende seer binne-in jou wat sê daar is iets verkeerd, weg te neem. Daardie pyn is egter te oorweldigend om in die oë te kyk.

Aanvanklik bring die “medikasie” verligting en beskerm dit jou van dit wat jy nie kan konfronteer nie, maar uiteindelik beheer dit jou en maak dit jou siel dood.

Miskien moet ons hieroor in die kerk begin praat. Miskien, as ons dit begin doen, dan word dit normaal om in die kerk eerlik te wees. Dan kom ons dalk agter dat die waarheid nie so erg is nie.

Ek het dit al sien gebeur. Groepies wat bymekaar kom om hulle stories te deel. Aan die begin is almal tot die dood toe bang, seker daarvan dat die ander hulle gaan verwerp as hulle die waarheid hoor. Maar hulle begin – en dan gebeur die wonderwerk.

Die ander gee ‘n gesamentlike sug. Hulle knik en glimlag en sê:
“Ek ook … Ek het ook al so gevoel … Ek het ook al dom foute gemaak … Ek sukkel ook …!”

En dan weet hulle dat hulle nie alleen is nie. Hulle kan maar hulle sondes konfronteer – met krag, in plaas van skaamte. Dit is wanneer groei begin.


3. Ons maak mekaar seer

Ons funksioneer almal vanuit gewonde plekke en dit is OK, solank as wat ons dit van onsself weet. Wanneer ons bewus is van ons eie wonde, kan ons probeer om ander daarvan te beskerm, of ten minste om verskoning vra wanneer ons opmors.

Maar wanneer ons ontken dat ons enige wonde het, kan ons eenvoudig gevaarlik wees. Te veel van ons besef nie dat ons beheervrate is en dat ons veroordelend, afwysend, sarkasties en arrogant is nie.

En omdat ons in gesagsposisies is, is mense te bang om dit vir ons te vertel. Sonder die terugvoer van ander, gaan ons net aan en evalueer net wat ons kan sien: die programme in die gemeente gaan aan, die erediensbywoning is bevredigend, die basaar het goeie geld ingebring.

Maar wat dalk ontbreek, is persoonlike transformasie – in onsself en in ons gemeentelede. Ons het daarin misluk om ‘n veilige plek te skep waar verwonding aangespreek kan word, waar innerlike stryd verwoord kan word en waar veiligheid en ondersteuning ondervind word.

Dit maak nie saak hoe goed ons bedoelings is nie – ons sal mekaar soms seermaak. Ek sou graag wou glo dat my eie wonde nie ander sal seermaak nie, maar dis wensdenkery. Ons sal vir altyd swak refleksies van God wees – maar as ons dit maar net wil erken, daaroor praat en verantwoordelikheid daarvoor neem, sal ons baie minder skade aanrig.

Ons het te veel tyd gemors om intellektueel oor God te wees – om idees en konsepte te bestudeer, om oor interpretasies te debatteer – en veels te min tyd om daardie konsepte met ons lewens te integreer. En dit wys.

Ons het hoogs opgeleide, talentvolle leiers in kerke, en tog word mense in sirkels gelei. Gemeentelede daag steeds op, betrokke by programme en dienslewering, maar hulle weet nie hoe om mekaar in die oë te kyk en te praat oor hulle gesukkel met hulle kinders nie, of hulle woede, of hulle hartseer, of hulle teleurstelling in God nie.

Hulle weet nie hoe om pynlike gesprekke te voer nie, hoe om mekaar te ondersteun te midde van krisisse nie. In plaas daarvan voel hulle vasgekeer en vind hulle dit nodig om buite die kerk hulp te gaan soek.


4. Ons strategieë saboteer soms die totstandkoming van betekenisvolle verhoudings

Kyk hoe kerke neig om groei te bewerkstellig. Dikwels is dit indrukwekkende programme wat klomp mense betrek om na ‘n ekspert te luister, met min geleentheid om met mekaar in interaksie te tree.

Terwyl die inhoud van hierdie programme relevant mag wees, vind integrasie selde plaas sonder die kans om nuwe konsepte te prosesseer en in te oefen. Selfs in selgroepe waar geleenthede gebied word vir praktiese toepassing, is die klem te dikwels om ‘n spesifieke hoeveelheid materiaal te dek.

Vir sommige beteken die idee om breedvoerig oor werklike lewenskwessies te praat, om van spoor af te gaan. Die gesprekke bly dus intellektueel, oppervlakkig en ander-georiënteerd en mense voel selde veilig genoeg om oor hul eie werklike probleme te praat.

Vir Jesus het dit oor langtermyn verhoudings gegaan om so intimiteit en vertroue te wen. Hy het Sy groepie met die hand gekies en met dieselfde groep vir drie jaar ‘n pad geloop. Hulle het saam gelewe, mekaar se stories, gewoontes, swakhede en sterkpunte geken.

Oral rondom ons is mense wat na meer soek. Hulle het geleenthede nodig om hulle tot langtermyn verhoudings met ander te verbind, om vir ‘n ruk met ander saam te leef, om van mekaar oor tyd te leer, om die vryheid te beleef van om geken en aanvaar te word met al jou geheime en skandes.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom