’n Goeie lewe is nie van goeie omstandighede afhanklik nie

“Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede tevrede te wees.”
– Filippense 4:11b

Ons lees ongelooflike verhale in die Bybel van mense soos die apostel Paulus wat in die tronk was, maar God geprys en vir ander briewe oor geluk geskryf het. Dit is regtig waar dat geluk die gevolg is van wat jy glo en wat jy doen, nie van wat met jou gebeur nie. As jy dit verstaan, kan jy ’n gelukkige lewe lei.


Die lewe op die rots

Die meeste mense dink hulle sal gelukkig wees as dit goed gaan of wanneer sekere dinge gebeur. Hulle welsyn is afhanklik van wat mét hulle gebeur en róndom hulle gebeur. En wanneer goeie dinge gebeur, is hulle gelukkig … ’n rukkie lank. Maar omdat hulle geen innerlike geluk het nie, verloor hulle gou daardie vlietende geluk sodra iets verkeerd loop.

Wil jy weet wat die geluk van ’n goeie lewe is wat nie op die aandelemark, jou deurmekaar gesin of jou baas gegrond is nie? Wat nie afhanklik is van jou verkoopsyfers of daardie verhouding wat jy al so lank begeer nie?

Dis hoe Jesus daardie geheim beskryf:

**“Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ’n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is. Al val daar ’n stortbui, en al kom die vloedwater af, en al woed daar stormwinde teen die huis, sal dit nie inmekaar stort nie, want sy fondament is stewig op die rots vas.

Maar elkeen wat na my woorde luister en dit nie doen nie, sal wees soos ’n dwaas wie se huis op sand gebou is. Wanneer daar ’n stortbui val, en die vloedwater afkom, en die stormwinde waai, sal daardie huis heeltemal inmekaarstort.”
– Matteus 7:24–27**

Wanneer Christus en Sy woorde ons vaste fondament is en ons dit uitleef soos Hy hier sê, maak dit nie saak wat ons van dag tot dag tref nie. Ons sal bo alles kan uitstyg en steeds veilig wees. Ons geluk is nie gebaseer op wat met ons gebeur nie, maar op wat en in Wie ons glo en op wat ons doen.


Hoe om in die werklike lewe uit te styg

Dit help nie om te ontken dat daar dinge in die lewe gebeur wat ons seermaak nie. As jy jou lewe egter op ’n sterk verhouding met God bou en Sy geheime in werking stel, kan jy vreugde en vrede ervaar selfs wanneer sake nie na jou sin verloop nie. Dit is wat dit beteken om sowel ’n ware lewe as ’n oorwinningslewe te lei.

Jy kan een van daardie mense wees wat bo alles uitstyg. Hier is sommige van die dinge wat God sal doen om jou te help om uit te styg:

• Hy sal jou bonatuurlike mag en krag gee wanneer jou omstandighede jou eie vermoë oortref. Jy kan op Hom leun en Hom van oomblik tot oomblik vir krag vra.
• Hy sal sorg dat jy Sy teenwoordigheid in moeilike tye waarlik aanvoel. Jy sal Hom daar by jou kan voel.
• Hy sal jou wys dat Hy ’n groter doel het met jou en jou lewe as dit wat jy op daardie stadium beleef, en dat jou lewe ’n dik boek is wat baie verder strek as die hoofstuk waarmee jy besig is.
• Hy sal iets goeds haal uit selfs die slegste dinge wat kan gebeur.
• Hy sal jou beskerm en onderhou en bewaar selfs as die slegte dinge met jou gebeur.
• Hy sal jou te midde van probleme met Sy liefde en vrede vul.
• Hy sal jou lei na die antwoorde wat jy nodig het vir wat jy ook al deurmaak.
• Hy sal ingryp en die situasie verander, soms bonatuurlik, om jou te red.
• Hy sal nuwe waardes en voorkeure in jou laat groei wat nie van omstandighede afhanklik is nie. Die dinge wat vir jou saak maak sal ewig wees, soos Sy liefde en jou geestelike gemeenskap, gesin en vriende se liefde.
• Hy sal jou op bonatuurlike wyse deur Sy Woord met jou praat en jou ook aanmoedig en lei.
• Hy sal nuwe deure oopmaak en ou deure toeswaai of as slegte gebeure geleenthede wegneem. Daar is altyd ’n môre by God.


Was al daar, het dit al gedoen

’n Kenmerk van ’n volwasse mens is dat hy nie dieselfde les weer en weer hoef te leer nie. “Was daar, het dit al gedoen” is woorde wat jy gereeld uit wyse mense se mond hoor wanneer hulle te staan kom voor ’n opsie wat hulle weier om weer te kies. Hulle het iets soortgelyks deurgemaak en hul les geleer en hulle wil dit nie herhaal nie.

Hierteenoor leer onvolwasse mense nie. Hulle herhaal. En die kern van die probleem is die wyse waarop hulle moeilike omstandighede aanpak. Hulle is geneig om ’n probleem te beskou as onregverdige indringing in die gelukkige lewe wat hulle verdien, bloot omdat hulle bestaan. Hulle word kwaad en bitter en begin blaam uitdeel wanneer dinge nie na hul sin verloop nie. Hulle protesteer met ’n gebalde vuis teen wie ook al: die baas, die mark, God of sommer die lewe.

Maar die laaste ding wat hulle doen, is om hul af te vra:
Wat kan ek hieruit leer?
Hoe kan ek hierdeur groei?
Watter groeistap vra hierdie situasie van my?
Wat moet ek doen om dit beter te maak?

As hulle dit kon doen, sou hul slegte omstandighede nie ’n totale verlies gewees het nie.

God gee ons wonderlike perspektief en wysheid om moeilike tye deur te sien:

“My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ’n mens se geloof ’n toets weerstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle jul lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.”
– Jakobus 1:2–5

Moenie teen die onregverdigheid van die lewe protesteer nie. Wie het in elk geval gesê die lewe is veronderstel om regverdig te wees? Daar gaan beproewings en uitdagings oor jou pad kom. Om daarteen in opstand te kom is soos om oor swaartekrag te kla. Dit is deel van die lewe.

Maar as jy voor ’n uitdaging te staan kom, pak dit in geloof aan. Laat die uitdaging toe om sy werk te doen, sodat jy jou lewensdoel kan bereik en geestelik gesond kan word sonder om iets kort te kom.

Hierdie geheim van geluk sê selfs al gaan dit nie goed nie, is daar waardevolle lesse te leer. Maar jy moet op die uitkyk wees daarvoor. Vra jouself dus:
Wat wil God my met hierdie beproewing leer?
Hoe kan ek dit gebruik om ’n beter mens te word eerder as om bitter te word daaroor?
Watter werk moet in my gedoen word deur hierdie moeilike tyd?

Dit is die taal wat mense praat wat ons as “gelukkig” beskryf — selfs in moeilike tye.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom