“Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.”
– Galasiërs 5:1
Slawerny is een van die algemeenste vorms van beeldspraak wat in die Bybel gebruik word. Dit het begin toe die farao die Israeliete in Egipte as slawe aangehou het. Dit is inderdaad die storie wat God gebruik om Sy hele Wet en doel met ons te verduidelik. As jy in daardie tyd geleef het, het jy geweet niemand kom uit Egipte sonder hulp nie. Die feit dat hulle daar uitgekom het, het bewys God is ’n ongelooflike God.
Geen keuse beteken geen vryheid
Was jy ooit ’n slaaf in Egipte? Waarskynlik nie, nie as jy besig is om hierdie nuusbrief te lees nie. Maar ek is seker jy kan op een of ander gebied in jou lewe met hierdie idee van slawerny identifiseer — en met die behoefte aan bevryding.
Slawerny gebeur wanneer jy jou vryheid om te kies verloor, of dit nou verband hou met mense of met gedragspatrone. Waar daar ’n verlies aan vryheid is, is daar in ’n mate ’n verlies aan geluk — soms in ’n groot mate.
Jy is gemaak om vry te wees. God wil nie hê enigiemand of enige gedrag moet jou beheer nie.
“Die Here beteken hier die Gees, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.”
– 2 Korintiërs 3:17
Hy het jou gemaak om vry te wees en dis die enigste manier hoe jy gelukkig sal wees. As daar ’n gebied in jou lewe is waar jy jou vryheid verloor het, kry dit terug! En soms beteken dit dat jy ’n proaktiewe standpunt sal moet inneem om daardie vryheid te behou.
Daar is tye wanneer jy net nee moet sê vir wie of wat jy ook al voel besig is om jou te beheer. En as jy nie kan nie, lees verder, sodat jy kan leer hoe om dit te doen.
Maar kom ons begin eers met ’n lys dinge in jou lewe waaroor jy dalk beheer verloor het:
• ’n Verslawende middel
• Kos
• Seks
• Die strewe na prestasie
• Die strewe na iemand se goedkeuring, liefde of aanvaarding
• ’n Obsessie met ’n begeerte of doelwit
• ’n Obsessie met geld, of geen beheer oor geld nie
• Die strewe na mag
• ’n Onvanpaste behoefte aan status
• Om iemand anders se probleme of verslawing toe te laat om jou te beheer
• Om iemand anders se gemene of afwykende gedrag toe te laat om jou te beheer
• Om deur vrees beheer te word
• Om deur skuldgevoelens beheer te word
Die boodskap is: God wil hê jy moet vry wees.
Wanneer die Bybel van beheer praat, verwys dit na die Gees se beheer (Romeine 8:6,9) en na self-beheer — nie na “ander-beheer” nie. Om die waarheid te sê, selfbeheersing is deel van die vrug van die Gees soos dit in Galasiërs 5:22–23 beskryf word.
God wil hê jy moet in beheer wees van die dinge wat Hy jou gegee het. Dit is joune om te beheer en weg te gee soos jy verkies, nie soos ander mense vereis nie.
Hier is ’n paar dinge wat binne jou beheer is:
• Tyd
• Energie
• Geld
• Hulpbronne
• Talente
• Verstand
• Oortuigings
• Waardes
• Begeertes
• Liefde
• Liggaam
• Keuses
• Perke
Niemand behalwe jy behoort in beheer te wees van hoe jy hierdie dinge beheer of uitdeel nie.
Eis jou Godgegewe vryheid op
Dalk het jy ’n gedeelte van jou geluk verloor omdat jy jou vryheid verloor het. Takel die werklike probleem.
Hoe? God het vir ons die plan gegee:
Staak die ding wat binne jou beheer is
Wat is jou eerste stap? Sê net nee!
Lees verder voordat jy dadelik sê: “Wel, as ek kon, dan sou ek, maar ek kan nie.” Ek verstaan baie goed dat daar sekere verliese van vryheid is wat jy eenvoudig nie kan beheer nie en wat jou waarlik gevange hou, soos ’n verslawing. Ons gaan later meer hieroor gesels.
Maar sommige verslawings is doodeenvoudig vrywillig. Jy het die vermoë om van daardie verslawings af weg te stap, maar jy weier om dit te doen omdat jy die ding waaraan jy verslaaf is, liewer het as wat jy wil erken. En tog is dit wat jou beheer, besig om jou te vernietig.
Jy weet jy sal uiteindelik moet wegstap — so stap dan net.
“As jy luister, Israel, en as jy gehoorsaam is en lewe volgens my gebooie, sal jy voorspoedig wees.”
– Deuteronomium 6:3
Jy kan nie voortgaan om iets te doen wat jy weet skadelik is en verwag dat dit met jou goed sal gaan nie. As jy met vuur speel, sal jy verbrand. Staak dit dan. En die beste manier om uit te vind of jy kan ophou, is om net op te hou. Doen dit net.
As jy hulp nodig het — erken dit
As dit nie vir jou moontlik is om net op te hou nie — erken dit. Onthou, dit beteken nie jy is sleg nie. Dit beteken God verstaan jy is ’n slaaf in Egipte wat nie op jou eie daar kan uitkom nie, en Hy wil jou help. So erken dit net.
Dit is nie maklik om uit die kloue van ’n verslawing te ontsnap nie. En as jy dit eers erken het, moet jy nog twee dinge doen:
- Vra God se hulp. Reik uit na God en Hy sal opdaag. Vra Hom vir krag om ’n ontsnappingsroete te vind en die krag om te ontsnap.
- Vra ander mense se hulp. God het ons geskep om ander mense nodig te hê. Jy moet nie net na God vir liefde en krag uitreik nie, maar ook na ander mense. Jy moet aanhou totdat jy vry is.
Soek die oorsprong
Die volgende ding wat jy moet doen, is om uit te vind wat jou dryf om jou vryheid prys te gee. Daar is altyd ’n behoefte wat die oorsaak is.
Dalk probeer jy ’n ruilooreenkoms aangaan. Het jy gehoop om jou vryheid te verruil vir iets wat die leegheid in jou kan vul? Watter leegheid in jou probeer jy met daardie persoon of daardie gedrag vul?
Of is jy dalk besig om iets weg te steek en toe te smeer? Watter seer probeer jy met jou gedrag wegsteek? Watter pyn probeer jy verlig met jou obsessie om daardie persoon in te palm?
As jy dit eers weet, sal jy die probleem kan oplos.
Kies die lewe
Gee jou oor aan dinge wat lewe gee. As jy liefde en gesondheid en lewe kies, sal jy nie meer daardie ander dinge waaraan jy verslaaf was, nodig hê nie.
Soek ware gemeensaamheid en goeie ondersteuning. Ontdek jou talente en gebruik dit. Stel jou beskikbaar vir diens aan God en ander.
Wanneer jy die goeie dinge wat nie verslawend is nie maar vervulling bring begin leef, sal jy dié dinge wat jou verslaaf het agterlaat en jou vryheid herontdek.
Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom