Maak die kerk siek lidmate nog sieker?

Op ’n stadium in my geestelike worsteling het ek die boodskap duidelik gehoor:
Neem net vir Jesus as jou Saligmaker aan, en al jou probleme verdwyn soos mis voor die son.

Maar so stadigaan het die realiteit my egter getref. Mense se probleme verdwyn nie soos mis voor die son nie. My eie “issues” is nog daar. Die kerkmense se “issues” bly hardnekkig vassteek. Die kerk is vol siek mense! En die mense in die kerk bly siek.

Sondae sing hulle halleluja in die kerk en Maandae slaan en vloek hulle mekaar by die huis en werk en pleeg karaktermoord. En so gaan dit jaar in en jaar uit. Sommige kry dit reg om hierdie twee lewens vir die kerk goed weg te steek. By die kerk beklee hulle posisies en is hulle so heilig dat hulle op water kan loop, maar by die huis kry die huismense swaar onder die juk van mishandeling.

En my gemoed word al swaarder hoe meer ek hierdie skynheiligheid om my raaksien, hoe meer ek my eie skynheiligheid beleef. Ons broei mekaar warm in die kerk. Die dominees het heeltemal tred met die realiteit van die lewe verloor en Sondae preek hulle irrelevante drome oor ’n geestelike lewe wat net vir Sondae werk.

Na die erediens gaan ons met warm harte huistoe om maar net met ons gebroke lewens aan te gaan en aan te hou om mekaar te vernietig. Êrens is die kerk besig om die pot heeltemal mis te sit.

Verstaan ons die Boodskap reg? Of is die Boodskap maar net so gebrekkig dat ons ander (en onsself) net tot op ’n punt kan help? En by daardie punt en verder is daar nie antwoorde vir ons “issues” nie?

Die realiteit het my getref: om ’n helper te wees, is BAIE moeiliker as wat ek aanvanklik gedink het.


Vier modelle van groei

In kerklike kringe is daar basies vier populêre maniere van dink oor persoonlike genesing en groei:

Die sondemodel

Die sondemodel sê dat alle probleme die gevolg van sonde in ons lewens is. As jy huweliksprobleme het of met depressie sukkel, is dit die helper se rol om jou net te help om die sonde in jou lewe te ontdek en dit te konfronteer en te bely. As jy dit sou doen, is jy verseker dat jou probleme nou op ’n einde is en dat dit van nou af met jou beter sal gaan.

Die waarheidsmodel

Die waarheidsmodel verkondig dat die waarheid jou sal vry maak. As jy nie “vry” is nie, as een of ander area in jou lewe nie uitwerk nie, is dit omdat die “waarheid” in jou lewe ontbreek. Die helper se rol was dan om jou te motiveer om soveel as moontlik Bybelversies en kerklike leerstellings uit jou kop uit te leer. Een of ander tyd sal hierdie Bybelversies hul pad van jou kop na jou hart vind en uiteindelik in jou gedrag en emosies opeindig.

Die ervaringsleermodel

Hierdie model verkondig dat jy by die pyn in jou lewe moet uitkom — vind die mishandeling of die pyn — en kry dit dan op een of ander manier uit. Voorstanders van hierdie model neem óf die pyn na Jesus, óf Jesus na die pyn. In ’n soort emosionele argeologie moet mense die seer van die verlede opgrawe en dan genesing soek deur gebed of verbeelding of net die pyn skoonmaak. Jesus se vermoë om tyd te transendeer word beklemtoon: Hy is daar in jou pyn en mishandeling en Hy kan dit genees en verander.

Die bonatuurlike model

Daar is baie variasies op hierdie model. Sommige kerke soek onmiddellike genesing en verlossing. Ander vertrou op die Heilige Gees om dinge te laat gebeur. Jy moet net uit die pad kom sodat Jesus deur jou kan lewe en op Hom vertrou om jou te lei en veranderings in jou lewe te maak.

Alhoewel daar waarde in al vier modelle is, tref die realiteit oor en oor. Mense het hierdie dinge gedoen wat hulle geleer is om te doen om huweliks- en ouerskapsprobleme, emosionele stryd en werksprobleme te probeer oplos — en elke keer gevind hoe hierdie geestelike waarhede hulle in die steek gelaat het.

Mense word van God se liefde geleer, tog gaan hul depressie nie weg nie. Hulle word van ’n gekruisigde lewe geleer, maar hulle bly verslaaf. Hulle fokus op hul sekuriteit in Christus, tog gaan hul angsaanvalle nie weg nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Dit is nie asof dit nie beter met mense gaan nie. Ek het baie keer gesien hoe mense verbeter, en gebed, die Skrif en bekering is baie kragtige elemente in die genesing van baie kliniese toestande.

Maar êrens het iets ontbreek.

Vier dinge het bly pla:

  • Geestelike metodes los sommige probleme nie op nie.
  • Lewensprobleme word dikwels “gehelp”, maar nie genees nie.
  • Ernstige, toegewyde Christene bereik ’n plafon in groei.
  • Geestelike groei behoort baie meer te help.

Word weer weergebore

Ek het aanhou werk en soek na werklike oplossings. En die afgelope klompie jare het goed begin gebeur wat my lewe omgekeer het.

Ek het mense sien genees — werklik genees. In plaas daarvan dat ek mense sien wat beter cope met depressie, het ek mense begin sien wat van depressie genees. In plaas daarvan dat ek mense met eetversteurings sien cope, sien ek mense wat dit oorkom. Ek sien verhoudings wat begin werk.

Ek het die “iets ekstra” gevind wat ek gesoek het.

Maar daar was een groot probleem: dit wat mense help genees en groei, het nie gelyk soos dit wat ek geleer het die “Christelike” manier van groei is nie. Dit het tegnieke en prosesse behels wat ek nooit tydens my teologiese opleiding geleer het nie.

Dit het vir my gelyk asof daar ’n geestelike lewe was waar ek van God geleer en in verhouding met Hom gegroei het — en dan ’n emosionele en verhoudingslewe waar ek geleer het om werklike probleme op te los.

Maar dit het nie sin gemaak nie.

My teologie het my geleer dat God antwoorde op alle lewensprobleme het. Hoe kan daar dan twee soorte groei wees?

Die enigste antwoord wat ek geken het, was: terug Bybel toe.

En dit was toe dat ek, so te sê, weer weergebore is.

Ek het ontdek dat alles wat ek geleer het om mense te help genees en groei reeds in die Bybel staan. Al die tegnieke en prosesse wat mense se lewens verander, is in die bladsye van die Bybel opgesluit.

Geestelike groei is die antwoord op alles.

Ons kan emosionele en verhoudingskwessies terugbring na die hoofstroom van geestelike groei. Daar is nie so iets soos ’n “geestelike lewe” en dan ’n “werklike lewe” nie. Dit is alles een en dieselfde ding.

Ons is dus vry om tegnieke en prosesse uit die menswetenskappe te bestudeer en toe te pas in die wete dat dit ook deel van God se openbaring is.

Daar is nie ’n Sondagslewe en ’n weekslewe nie.

Al ons probleme — ook die emosionele en verhoudingsprobleme waarmee ons van Maandag tot Saterdag worstel — is geestelike groeiprobleme.

En ons kan genesing en groei van hierdie probleme beleef.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom