Hierdie insig is oorspronklik in ’n vroeëre nuusbrief gedeel en bly vandag steeds relevant.
Om te genees, moet ons in die eerste plek kies om ’n konneksie met ander te maak, in plaas daarvan om te isoleer en weg te kruip. Ons luister dikwels na baie leuens wat verhoed dat ons genees, soos:
- Dit het lank gelede gebeur: tyd genees mos alle wonde.
- Dit gaan (oënskynlik) goed met my; waarom nou hulp soek?
- Al wat ek nodig het om te genees, is God en niemand anders nie.
Daar is nog baie ander leuens wat verhoed dat mense genesing kry, maar die mees algemene een wat verhoed dat mense met ander konnekteer en dus geïsoleerd bly, is hierdie laaste een:
“Al wat ek nodig het om te genees, is God en niemand anders nie.”
Hierdie leuen is eintlik ’n vorm van ontkenning. ’n Mens kan jouself en ander net so lank probeer oortuig dat daar geen probleem is nie. Later sluip die realiteit egter in en sien jy en ander jou situasie vir wat dit is. Blatante ontkenning begin dan dwaas lyk.
Jy erken uiteindelik dat die lewe nie perfek was nie. Jy erken dat daar iets is wat aandag nodig het — maar ontken dat dit die aandag van ander mense vereis. In plaas daarvan om uit jou eensame grot te kom, sleep jy God daarby in en verwag van Hom om elke behoefte te vervul en elke pyn te genees. Dit gebeur egter nie, want dit is nie God se plan nie.
God se plan vir ons is om met ander te konnekteer en so genesing in mekaar se lewens te fasiliteer. Ons wil dikwels nie hê dit moet waar wees nie. Ons wil dit op ons eie maak. Ons wil nie oop en eerlik wees nie. Ons is bang vir verwerping. Ons wil net alleen gelos word.
Jy mag dalk baie verskonings hê om nie met ander te konnekteer nie, maar God het baie goeie redes waarom ons dit wél moet doen.
God se waarheid
God se manier vir genesing is dat ons met mekaar moet saamwerk en daar moet wees vir mekaar — aan mekaar verbind (Romeine 12:15; 15:14; 1 Korintiërs 12:25; Efesiërs 4:2; Jakobus 5:16; Galasiërs 6:2).
Die Bybel stoot ons terug na mekaar toe. God bring ons terug na mekaar wanneer ons wil wegkruip. Ons is gebore vir konneksie. Dit onderhou en genees ons.
Isolasie is die weg van die dwaas. Konneksie is die weg van God.
Die probleme met konneksie
Konneksie met ander is gewoonlik baie moeilik. Een rede is dat ons onervare is. Ons word nie noodwendig grootgemaak met die vaardigheid om intieme konneksie te bou nie.
Vir ander mense is dit juis hulle ervarings wat hulle van konneksie weerhou. Iemand wat jy vertrou het, het jou dalk verraai. Jy het toe gekies om jouself te beskerm deur te isoleer. Soms is ’n verhouding selfs versmorend en beheersend, en uiteindelik word vrees die grootste struikelblok op pad na intieme konneksie.
Moeilike vereistes van konneksie
Intieme konneksie vra dat ons oor verlore drome moet treur en die realiteit moet aanvaar. Dit vra dat ons moet aanhou beweeg ten spyte van pyn en teleurstelling.
Dink aan ouers wat gedroom het van ’n gelukkige en gesonde gesin, maar met gebroke drome en pyn eindig. Hulle kan hulleself jammer kry, of kies om die gesin te genees en egte verhoudings te bou — soms vir die eerste keer.
Intieme konneksie genees nie net die individu nie, maar die hele gesin. Genesing begin wanneer ons ophou om onsself te beskerm of ander te beskuldig, en begin om eg te verbind. Ons modelleer hierdie konneksie aan ons kinders, en dit word ’n nuwe lewenswyse wat genesing bevorder.
Hierdie tipe konneksie vereis onselfsugtige liefde:
- Liefde vir God, selfs al het Hy nie pyn of tragedie verhoed nie
- Liefde vir ander soos God ons liefhet
- Liefde vir onsself as waardevolle skepsels van God
Hierdie liefde lê die grondslag vir genesing in gebroke gesinne. Dit help ons om ons oor te gee aan die realiteit en God toe te laat om ons te lei. Oorgawe aan God is nie maklik nie, maar dit maak ruimte vir Sy genesende krag.
Genesing is ’n keuse. Dit begin met die keuse om God se manier bo ons eie te kies.
As jy moeg is om van God en van ander weg te hardloop, oorweeg God se beloftes wanneer jy met Hom konnekteer en Hom vertrou (Matteus 11:28–30).
Intieme konneksie met God is noodsaaklik vir genesing — maar dit is nie genoeg nie. Ons moet ophou met die “God alleen” mentaliteit en na ander uitreik.
In nederigheid kan ons ’n nuwe manier van konneksie begin wat noodsaaklik is vir genesing. Moenie verder gaan voordat jy nie eers kies om met God te konnekteer nie. Neem dan die genesende stap om met ander te konnekteer — mense wat jou kan help om te genees en die lewe voluit te leef.
Genesing is ’n keuse.
Dit is die keuse om te konnekteer.
Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom