Disfunksionele gesinne

Ons almal kry tot ’n mindere of meerdere mate seer. Ons kan dalk selfs die afleiding maak dat die meeste van ons uit disfunksionele gesinne kom — tot ’n mindere of meerdere mate. Die graad van disfunksionaliteit sal dus natuurlik verskil.

Ons beleef almal op een of ander manier die trauma en seerkry van so ’n gesin. Daarom is die Bybel ook nie skaam om disfunksionele gesinne te beskryf nie, byvoorbeeld die gesin van Dawid. Gaan lees weer die intriges van hierdie verhaal in 2 Samuel 11–13.

Amnon, Tamar en Absolom was tieners toe die “insident” tussen Batseba en Dawid plaasgevind het. Hulle moes toesien hoe hul pa manipulerende en verraderlike gedrag aan hulle voorgeleef het deur sy sonde met Batseba te probeer toesmeer deur in die geheim opdragte te gee wat tot Urija se dood gelei het.

Wat daardie tieners geleer het, was hoe om toe te smeer, hoe om te ontduik en hoe om die seer wat uit jou aksies vloei, te ignoreer. Die tafel was dus gedek vir ’n disfunksionele gesin om te ontvou.

Deel van die tragedie van Dawid se gesin was dat hy nooit werklik die bloedskande tussen Amnon en Tamar hanteer het nie. Twee jaar het verloop sedert Tamar se verkragting en Dawid het nog steeds geen dissiplinêre stappe teen Amnon geneem nie.

Absolom het toe besluit om dinge in sy eie hande te neem. Hy het sy pa en die gesin uitgenooi na ’n partytjie by sy huis. Nadat Amnon baie gedrink het, het Absolom hom vermoor. Absolom was trots op sy daad omdat hy gevoel het hy het sy suster gewreek. Hy het egter geweet sy daad sou nie ongestraf bly nie en het gevlug en was uiteindelik vir drie jaar in ballingskap.


Konsepte wat tot genesing kan lei

Ons kan ten minste die volgende vyf konsepte van genesing aflei uit die disfunksionele gesin van Dawid:

1. Elke lid van die gesin het seergekry en het hulp nodig.
Daar is nie so iets soos ’n sondebok nie. Dit is maklik om een lid as die “swart skaap” uit te maak, maar almal het hulp nodig gehad — ook Dawid.

2. Ouers doen die beste wat hulle kan.
Dawid was woedend oor Amnon se optrede, maar ons lees nêrens dat hy daadwerklik opgetree het nie. Hy het sy gesin gefaal, maar waarskynlik nie doelbewus nie.

3. Tyd heel nie alle wonde nie.
Gesinswonde word dikwels van geslag tot geslag oorgedra. Die idee dat tyd alles genees, is selde waar wanneer dit by gesinskwessies kom.

4. Innerlike groei moet ’n uiterlike effek hê.
Dawid was ’n man na God se hart en kon diep emosies met God verwerk, maar daar is min bewyse dat sy kinders hierdie kant van hom beleef het. Wanneer ons geestelike lewe nie in liefdevolle verhoudings sigbaar word nie, ontstaan disfunksie.

5. Jy kan altyd oor begin.
Dit lyk asof Dawid later ’n ander tipe verhouding met Salomo gehad het. Dit is nooit te laat om ’n beter ouer of eggenoot te word nie.


Wat behels genesing vir ’n gesin?

1. Wees pro-aktief.
Neem aksie. Sluit aan by ’n ondersteuningsgroep, lees boeke, stig ’n kleingroep of sien ’n terapeut. Doen iets.

2. Aanvaar dat genesing tyd neem.
Genesing kan nie gehaas word nie.

3. Neem nuwe leerstof in.
Dit is moeilik om te weet wat “normaal” is as jy in chaos grootgeword het. Soek hulp en herprogrammeer jou denke met nuwe inligting.

4. Doen wat nodig is.
Ontwikkel die houding dat jy ’n manier sal vind. Hou op met verskonings.

5. Raak ontslae van skaamte.
Gesinskaamte en kulturele skaamte is emosioneel vernietigend. Skaamte is die gevoel dat daar iets fout is met jou as mens. Dit word deur mense geskep, nie deur God nie.

6. Ontwikkel ’n toegewyde spiritualiteit.
Ware verandering is nie moontlik sonder God se genade en die werk van die Heilige Gees nie. Ons kan eerlik met God wees — Hy sal ons ontmoet waar ons is en saam met ons werk om ons op ’n beter plek te bring.


Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom