Hierdie insig is oorspronklik in ’n vroeëre nuusbrief gedeel en bly vandag steeds relevant.
Ek kan amper nie glo ons is deur 2015 en besig met 2016 nie! Hoe ouer ’n mens raak, hoe vinniger vlieg die tyd. Gedurende Desember van elke jaar hoor ek hoe mense vir almal seën en goeie wense vir die nuwe jaar toewens. Maar weet ons regtig wat en hoe God se seën werk?
Wanneer ons met gebroke mense werk, is een van ons hoofdoelwitte om hierdie mense te help om weer God se seën te ontdek. En die sleutel wat God se seëninge oopsluit, is vertroue. Ons moet mense dus help om God (weer?) te leer vertrou.
“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” (Spreuke 3:5–6)
Deur vertroue (geloof) verbind ons ons aan God op ’n manier wat ons afhanklikheid van Hom en ons oorgawe aan Hom wys. Dit is wat Hy die meeste van alles van ons verwag. Hy wil hê ons moet op Hom vertrou en meer op Hom as op enigiets anders.
Vertroue is die kern van geloof en dit stel jou oop vir alles wat jy van God nodig het (Hebreërs 11:6). Om te leer om op God staat te maak, sal jou lewe in elke opsig groter en beter maak as wat jy jou ooit sou kon indink. Namate jy vertrou, sal jy geloofstreë gee en seëninge ontvang wat jy nooit sou ontvang het nie en dinge bereik wat jy nooit gedink het moontlik is nie.
Ontsluit die geheim van vertroue
Hoe ontsluit ons die geheim van vertroue? Die eerste antwoord is om daardie heel eerste geloofstree te gee. Dis soos die Nike-advertensie sê: “Just do it.”
Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom (Hebreërs 11:8).
Waag dit om weerloos te wees
As ons nie vertrou nie, is ons tot ons eie bronne beperk en ons is nie gemaak om alles op ons eie te doen nie. Wanneer ’n baba gebore word, het hy geen keuse as om op sy versorgers te vertrou nie, want hy is 100% weerloos. Deur die proses van vertroue word die baba versorg en gevoed. Hy floreer juis, in sy weerloosheid, deur sy behoefte aan en vertroue op ander.
Ons is dieselfde. Watter geloofstree wat jou weerloos maak, vra God van jou?
Begin met wat jy nodig het
Waarvoor moet jy God vertrou? Wel, met omtrent alles, maar veral vir die dinge wat jy nie vir jouself kan voorsien nie. Dit is hoe jy ’n groter lewe kry as die een wat jy het en dit is ook hoe jy Hom dien en Sy oogmerke met jou bereik.
Vertrou God se wese, nie enige bepaalde uitkoms nie
Wat van die kere wanneer dinge nie goed uitwerk nie? Wat dan? Beteken dit dat God jou in die steek gelaat het?
Die Bybel stel dit baie duidelik: ons vertroue in God is nie gegrond op bepaalde uitkomste wat ons kan sien nie. Ons vertroue is gegrond op Sy liefde vir ons en Sy wese. Hebreërs 11 is vol voorbeelde van mense wat geloofstreë gegee en afgryslike gruwels deurgemaak het sonder om ooit te ontvang wat aan hulle beloof is.
Dis maklik om God te glo wanneer ons bo-op die kruin staan. Om God in moeilike tye te vertrou, is die diepste geloof wat daar is. As ons deur donker tye aan God bly vashou, sal ons vind Hy verlaat ons nooit terwyl ons deur die pyn stap nie.
Vertrou God selfs as jy nie verstaan nie
Hoe kan ek in elk geval verwag om ’n oneindige God te verstaan? Wie wil dan nou eintlik ook ’n God hê met wie ons op gelyke voet kan staan? Hy sou ’n redelik nuttelose God gewees het as Hy niks beter of slimmer as ons is nie.
As ons ons verbind aan die Bron van alles wat goed is – selfs al verstaan ons nie alles nie – stel ons ons lewens vir onvoorstelbare seëninge oop.
Moenie geloofstreë met dwaasheid verwar nie
Ek krimp ineen elke keer as ek een van daardie stories hoor, byvoorbeeld waar ’n ouer ’n kind se medikasie gestaak het en “geloofstreë” gee om God te vertrou om die kind te genees – met rampspoedige gevolge.
Satan het eens probeer om Jesus sover te kry om van ’n krans af te spring en God te vertrou om Hom te vang. Jesus se reaksie was dat ons God nie op die proef mag stel nie (Matteus 4:7).
God is nie vir ons idiotiese besluite verantwoordelik nie. Hy gee ons verstand om te gebruik. Vertroue is om geloofstreë te gee in die wete dat God sal doen wat Hy gesê het Hy sal doen. Maar ons kan nie aanvaar Hy sal alles doen wat ons wil hê Hy moet doen en dan blindelings met ons planne voortgaan nie.
Moenie dwaasheid met geloof verwar nie.
Beweeg na die groter lewe
Hoe vaar jy met jou vertroue in God? Is daar enige gebied in jou lewe waar jy die behoefte het dat God dit groter of beter moet maak? Kan jy Hom vertrou om dit te doen?
Hier is ’n paar wenke om jou te help om jou vertroue uit te leef:
Weet wie jy vertrou
Lees die Bybel en leer meer oor God se wese. Hoe meer jy van Hom weet, hoe makliker sal dit wees om Hom te vertrou. Jy sal Jesus ook wil leer ken, want Jesus het gesê as ons Hom gesien het, het ons die Vader gesien (Johannes 14:9).
Besluit wat moet verander en beplan elke tree
Kyk na jou lewe, besluit watter areas wil jy verander en vra jouself hoeveel geloof jy op daardie gebiede beoefen. Vra God om jou te help om duidelike besluite te neem oor die dinge wat jy wil verander en beplan dan die geloofstreë wat jy moet neem om daardie veranderinge teweeg te bring. Onthou, geloof sonder aksie is dood (Jakobus 2:17).
As jy jou nie êrens blootstel en weerloos bly staan nie, word jy nie werklik geraak nie en sal jou geloof nie groei nie.
Herskryf jou “vertroue-kaart” indien nodig
Vra jouself af of daar enigiets in jou verlede is wat die vermoë om te vertrou, geskaad het. Was dit mense? Die kerk? Het jy ’n traumatiese ervaring gehad? Al daardie dinge kan ons vermoë om te vertrou beïnvloed. Vind uit waar jou “vertroue-kaart” vandaan kom en begin jou toekomspad herskryf. Kry terapie indien nodig.
Deel in ander se geloofsgetuienis
Lees ander mense se stories oor geloof en luister na hul getuienis. Die Bybel sê as ons kyk na wat ander gedoen het en na wat God in hul lewens gedoen het, dra dit tot ons eie geloof by.
Vertroue is ’n spier wat kan ontwikkel terwyl jy leer om seker te wees Hy kan doen wat jy nie kan sien nie. Natuurlik kan jy dit nog nie sien nie! Dit sal eers begin gebeur wanneer jy daardie tree gee – die geloofstree.
Hartlike groete
Dr Bertie Hanekom